Wednesday, 25 November 2015

Die kat op die draad

"02:37" wys die alarm. Hy het weliswaar vroeg al lappe getrap, maar hoekom sukkel hy so om te slaap?
Nou tref dit hom...die verdomde elektriese heining!

Die een oomblik het hy Mev. Potjierol ...Alida... se nat lyf teen hom gevoel en die volgende klief die skel geluid van die alarm deur die aandlug.

Uit die swembad en kaalvoet deur die tuin. 'n Vinnige inspeksie van die draad rondom die perseel. Niks...seker weer 'n kat. Verdomp. Die atmosfeer daarmee heen...

Hy skakel die bedlampie aan. Smeer ingedagte room aan die skurwe,seer hakskeen. Hoekom altyd die linkerste voet? Sou sweer hy was kreupel, of is dit nou kruppel?

"Vat jou goed en trek Ferreira, Jannie met die hoepelbeen". Waar loop sy gedagtes nou rond?
 
"n Koppie Twinings Earl Grey en 'n stukkie van die beskuit wat hy gister gebak het. Dit help gewoonlik as 'n man so worstel om te slaap. Straks 'n blokkie of twee van die smullekker Lindt donker sjokolade met die seesout geur.

Genade, ook maar goed die geharde skobbejakke daar buite sien hom nie nou nie! 'n Voetroompie, Ingelse tee, beskuit wat hy self bak, fency donker sjokolade. Dit sal beswaarlik 'n boef se broek laat bewe.

Die ding met die Afrikaans by Maties pla hom. Breyten braak gal, Deon Meyer bekyk die debat vanuit 'n ander oogpunt. Wie weet werklik wat alles agter die skerms aangaan? Hy vermoed die regering van ons se toepassing/weerhouding van subsidies het miskien 'n rol te speel hier. Prof, Wim word miskien geforseer om die US se boeke te laat klop. Maar dan weer...hoekom moet ons altyd die een wees wat toegee? Basta daarmee, dis tyd dat ons 'n slag ons voet neersit.

Hy voel hoe sy ooglede swaar word. Die bedlampie af..hy wonder hoe sy more oggend gaan reageer as hulle mekaar in die ontbytkamer sou raakloop?




Saturday, 14 November 2015

Merde!

Wat is dit met godsdiens?!
Die Katolieke het die massas vir eeue in die donker gehou.
Ketters is gebrand.
Die Kruistogte was maar net 'n verskoning vir 'n geroof en 'n geplunder.
Die sogenaamde "Troubles"in Noord-Ierland.
Die voortslepende konflik in die Midde-Ooste.
Die leiers van die NG kerk in ons eie land gedurende die Apartheidsjare.
Die lys nimmereindigend...en nou die hedendaagse vloek.

Radikale lapkoppe met hul eie interpretasie van die Koran.

Parys ontwaak vanoggend met die nuus dat ten minste 127 gisteraand oorlede is en nog 180 ernstig beseer. Die ernstigste terreurvoorval in Europa sedert  Madrid 2004.
Bomontploffings by 5 verskillende plekke. Die Stade Francais en die Bataclan teater waar 1000 jong mense na 'n Amerikaanse rockgroep gaan luister het.

Familielede, vriende, kollegas...verward, droewig, kwaad... hoekom? Fok, Hoekom?!Drome le aan skerwe, families verskeur...die smart.

Ons held voel magteloos. Dis een ding om 'n houtkruis in Dracula se borskas te dryf of om 'n bullebak by Presleys op sy neus te laat kyk, maar hierdie gespuis...


Friday, 13 November 2015

In die sweet van jou aangesig...

Genesis 3;19. Dit voel omtrent so. Ons held staar na die draaiende plafon waaier,,amper hipnoties. Die interaksie met die flou lig van die bedlampie...skaduwees wat speel.

Oorle Jan Spies sou beweer het hy staan op sy rug...dakinspeksie.

Hopelik hou die versengende hitte van die afgelope tyd die booswigte ook by die huis .Geen mens kan dit uithou nie.

Laat hom dink aan 'n toneel uit 'n fliek waar die troep so op sy bed le...bruin frokkie...gespierde bolyf,,,"dog tags" om sy nek...erens in Vietnam.

Een voordeel van die hitte is dat dit die dames noodsaak om effens skrapser aan te trek. Hoe polvye by ontvangs veral, wat 'n lus vir die oog! Ongelukkig voel ou Bessie Alberts sy moet ook ietsie wys...ai...bo-arm lelle!

Dis seker nou al 4 maande sedert hy die Weigh Less brosjure op die koffietafel in die sitkamer opgemerk het. Die tyd vlieg. Mev. Potjierol het vanaand 'n koel somersnommertjie aangehad...sy het ooglopend Weigh Less se voorgestelde instruksies streng gevolg. Aitsa...'n man kan weer loer.

Verdomp,,,daar is die muskiet weer...hoekom is daar altyd een? Is hulle nie veronderstel om deur bewegende lug verdryf te word nie? Ou Kingsley met die baard kan maar 'n paar hier ook kom doodmaak.

20:50 op sy horlosie...dis nie te laat nie...hy gaan nou vir haar vra of sy sal omgee as hy die swembadjie gebruik. Sy sal sekerlik tog nie 'n probleem daarmee he nie? Net vinnig hemp aantrek...aag bogger dit. Sagte klop aan haar deur. "Naand Mevrou"...hy haak vas...sy staan in haar swembroek en japon..."jammer om jou so laat te steur, maar..." ..."ek is self juis nou op pad om af te koel, kom gerus saam".

Die maanlig verskaf genoeg lig om die paadjie na die poel te verlig. Dan is hulle in die water. Lafenis...heerlik! "Dolf, noem my gerus Alida, jy is altyd so formeel" "Ja, seker".Speelvol plas sy water in sy rigting.

Wat nou Skim?


Thursday, 5 November 2015

"That's Amore"

Stadig laat sak hy die stilus op die langspeelplaat. Die strelende klank van Jim Reeves se stem vul die klein vertrek. Hy soek deur die stapel plate...The Beatles, The Doors, Bob Dylan, Cream, Eric Clapton. Wat 'n era!

Nou na 'n kleiner stapeltjie...Maria Callas,Luciano Pavarotti, Jose Carreras, Montserrat Caballe, Catherine Jenkins. Kragtige stemme, almal.

Hy het nog altyd 'n voorliefde vir 'n "lead guitar"gehad, en sy versameling weerspieel dit. BB King, Buddy Guy, Stevie Ray Vaughan, "Slow Hand "Clapton, Joe Bonamassa en die huidige yster, Derek Trucks.Trucks en Susan Tedeschi se Tedeschi Trucks Band (natuurlik nou op CD) is sy huidige gunsteling.

Maar 'n man se smaak kan wyd loop. Van sentimentele Jim Reeves tot Julie Andrews in die onvergeetlike Sound of Music van 1965. Die Von Trapp familie met die immergroen Edelweis, My Favourite Things, Climb Every Mountain, Do-Re-Mi en die titel liedjie.
Jim Reeves se enigste rolprent het in Suid- Afrika afgespeel Die musiek komedie,Kimberley Jim, met Emil Noval as regisseur het 'n paar interessante karakters gehad. Mike Holt (bekende bokser) as "Punchy"" en Danny Pretorius as "Vonk de Ridder".Reeves is natuurlik tragies oorlede in 'n vliegtuigongeluk.

Nou Dean Martin se "That's Amore". Hy voel altoos lus om saam te sing. Wag, was dit die kraak van 'n vloerplank in die gang? Sy instink neem oor en oombliklik is hy aan die beweeg...
Versigtig stoot hy die deur op 'n skrefie...die gang is leeg, maar hy raak bewus van 'n bekende reuk. Die parfuum wat hy vir Mev. Potjierol op die lughawe gekoop het na sy eskapade met Count Dracula!
Dit was sy by die deur...so wragtig! Maar waarom...kan dit wees dat sy...nee, sekerlik tog nie?

Saggies maak hy die deur toe...vir 'n wyle leun hy met sy rug teen die deur. "Vergeet daarvan" prewel hy vir homself. More is nog 'n dag.
  

Die Skim geniet ook sy musiek!
Die Skim geniet 'n trom solo!
Die Skim sing 'n liedjie!
D