"02:37" wys die alarm. Hy het weliswaar vroeg al lappe getrap, maar hoekom sukkel hy so om te slaap?
Nou tref dit hom...die verdomde elektriese heining!
Die een oomblik het hy Mev. Potjierol ...Alida... se nat lyf teen hom gevoel en die volgende klief die skel geluid van die alarm deur die aandlug.
Uit die swembad en kaalvoet deur die tuin. 'n Vinnige inspeksie van die draad rondom die perseel. Niks...seker weer 'n kat. Verdomp. Die atmosfeer daarmee heen...
Hy skakel die bedlampie aan. Smeer ingedagte room aan die skurwe,seer hakskeen. Hoekom altyd die linkerste voet? Sou sweer hy was kreupel, of is dit nou kruppel?
"Vat jou goed en trek Ferreira, Jannie met die hoepelbeen". Waar loop sy gedagtes nou rond?
"n Koppie Twinings Earl Grey en 'n stukkie van die beskuit wat hy gister gebak het. Dit help gewoonlik as 'n man so worstel om te slaap. Straks 'n blokkie of twee van die smullekker Lindt donker sjokolade met die seesout geur.
Genade, ook maar goed die geharde skobbejakke daar buite sien hom nie nou nie! 'n Voetroompie, Ingelse tee, beskuit wat hy self bak, fency donker sjokolade. Dit sal beswaarlik 'n boef se broek laat bewe.
Die ding met die Afrikaans by Maties pla hom. Breyten braak gal, Deon Meyer bekyk die debat vanuit 'n ander oogpunt. Wie weet werklik wat alles agter die skerms aangaan? Hy vermoed die regering van ons se toepassing/weerhouding van subsidies het miskien 'n rol te speel hier. Prof, Wim word miskien geforseer om die US se boeke te laat klop. Maar dan weer...hoekom moet ons altyd die een wees wat toegee? Basta daarmee, dis tyd dat ons 'n slag ons voet neersit.
Hy voel hoe sy ooglede swaar word. Die bedlampie af..hy wonder hoe sy more oggend gaan reageer as hulle mekaar in die ontbytkamer sou raakloop?
Waar is Die Skim?
ReplyDelete