Een oggend na pouse toe die sub-b klas terugkeer vind die
juffrou iemand het gebollie op die vloer voor die swartbord. Na 'n lang
gegiggel kry sy die klas om te kalmeer en vra wie dit gedoen het. Niemand
antwoord nie.
Sy vra toe vir al die kinders om op hulle arms te le en
dan maak sy ook so.
Die een wat die bollie gelos het moet dan vorentoe stap,
dit optel en "jammer klas" op die bord skryf. Sy belowe dat sy ook
nie sal kyk wie dit is nie.
Na so 2 minutes met almal se koppe op hul arms hoor die
juffrou hoe iemand se stoeltjie stadig uitskuif, voetstappe tot by die
swartbord, 'n gegriffel met kryt, 'n gegriffel op die vloer, voetstappe terug
en 'n stoeltjie wat terug skuif.
Met hoop maak sy haar oe oop en kyk met skok na die vloer
na 'n tweede bollie en op die bord staan:
"Die skim kak weer"
2015/04/21 : Beurtkrag: Wie gly daar soos 'n skim deur
die donker strate van Lynnwood? Ons held se gedagtegang word slegs tweemaal
onderbreek deur waaksame herdershonde se geblaf. Die steurende, of is dit
gerusstellende, gedreun van kragopwekkers registreer beswaarlik by hom. Van tyd
tot tyd word hy verblind deur die kopligte van aankomende voertuie. Sy soepele
spiere, glinsterend van sweet, word vir 'n vlietende oomblik vasgevang deur die
ligstrale wat die donkerte deurklief. Die buurt kan rustig slaap.
Verbeeldingryke Smittie, aka Die Skim.
2015/04/21 : Alweer beurtkrag! Die sekelmaan,wat stadig
sy gang gaan deur die hemelruim, dra by tot die donkerte in die stil strate van
ons held se buurt. Geklee in funksionele swart en grys, met slegs 'n titseltjie
wit verskaf deur die bekende Duitse vervaardiger van sportkleding. 'n
Kleurlingvrou met voos lippe en verbleikte pink kopdoek staan in die yl
verligte deur van 'n drankwinkel, haar blik bewonderend. Die verkeersligte op
die hoek van Lynnwood en Rodericks werk verbasend genoeg. "Kop en skouers
stil, maag ingetrek, knieë hoog", gaan die refrein deur sy kop soos hy vir
'n vlietende oomblik vasgevang word in die ligte. Die Kronieke van die Skim,
geborg deur Eskom.
2015/05/05: Die beurtkrag vang ons held onkant en daarom
is hy effe nukkerig soos hy pligsgetrou sy buurt patrolleer. 'n Aankomende
voertuig verstel sy kopligte om sterker in sy oë te skyn. Waarom? Om hom beter
te kan sien/verblind? Sy gedagtes draal onwillekeurig na die Heks en Rooikappie- "Om beter te kan sien my
kind." Hy forseer sy gedagtegang terug na die hede. 'n Vraag wat onlangs
telkens by hom opkom: " Moet sy kenmerkende en funksionele swart en grys
oefenklere nie miskien vervang word met wit of weerkaatsende materiaal nie? Of
wat van die klein liggie wat Jan Braai
op sy kop het wanneer hy kamtig vir die volk wil voorsê hoe om te braai? 'n Man
word nie jonger nie, en moet na sy veiligheid ook omsien."
Wat sal ons Held besluit? Bly ingeskakel vir die volgende
episode van Die Skim.
2015/07/30: Ons
held beplan'n ekskursie na Transylvania. Hy gaan kragte meet met Count Dracula,
'n vete wat jare terug strek. Gewapen met knoffel en 'n vernuftige houtkruisie,
het hy sy beplanning en strategie deeglike deurdink. Hierdie keer sal hy nie
terugkeer voordat die aartsvyand verslaan is nie! Om ongemerk by die ou kasteel
in te kom was nie te moeilik nie, maar net toe.....lees môre verder vir die
volgende spannende episode van Die Skim se Kronieke.
2015/07/29: Ons Held sorg dat hy in die skadu's bly en
krakerige vloerplanke vermy. Skielik bevind hy hom in 'n groot saal, en daar
staan Dracula, dramaties vasgevang in 'n maanligkol. Die oomblik van waarheid
het aangebreek! Die geveg is heftig, maar vinnig oor. Hygend buig hy oor die
lyk van die monster . Die bebloede houtdolk steek uit Dracula se borskas waar hy dit met brute krag
in sy hart gestamp het. Word vervolg...
2015/07/29: Die gesig van sy slagoffer is verwronge en
grotesk. Die oë staar wild en nikssiende, 'n straaltjie bloed sypel uit die een
mondhoek. Die huisie knoffel wat onseremonieël in sy smoel gedruk is, verleen
'n komiese, bisarre element tot die hele toneel.
Word vervolg... Kronieke van Die Skim.
2015/07/29: Ons held kyk vir oulaas selfvoldaan na die
grusame toneel, dan forseer hy sy gedagtes terug na die volgende formidabele
taak wat op hom wag...hy moet vir Mevrou Potjierol, by wie hy loseer, 'n klein
aandenking in die hande kry. Sy is salig onder die indruk dat hy(sy ken hom as
Dolf) op 'n sakebesoek aan Italië is. Hoe nou gemaak in hierdie eenvoudige,
agterlike deel van die wêreld, bekend as Transylvania? Lees môre verder. Die
Kronieke van Die Skim.
2015/07/30: Ons Held beur moeisaam voort deur die
stowwerige, nou stegie. "Adult Shop" skreeu die vulgere rooi bordjie
voor die klein winkeltjie. Vir 'n vlietende oomblik oorweeg hy dit om 'n
"toy" vir Mev Potjierol te koop. Hy gril en skud sy skouers. 'n
Beskeie reukwatertjie van die "Duty Free" by die lughawe is haar
voorland. Word vervolg...
2015/07/30: Ons Held huiwer 'n oomblik voor hy die
vliegtuigtrappies bestyg. Dis 'n wolklose aand en die volmaan trek sy aandag-
die 2de volmaan van die maand. 'n
Sogenaamde " Blou Maan" , onthou hy as hy terugdink aan sy dae
op die skoolbanke.
Hy gaan homself beloon met 'n glasie vonkel, besluit hy
as hy in sy stoel neersyg. Hy besef nou eers hoe die dramatiese gebeure van die
afgelope paar dae hom uitgeput het.
Het die aantreklike brunette oorkant die paadjie werklik
skalks vir hom geloer, of is dit maar net sy verbeelding? Hy teug behaaglik aan
die vonkel en laat sy gedagtes toe om bietjie te dwaal...word vervolg.
2015/08/01: Ons Held is terug in sy kamertjie by Mev
Potjierol. Dis amper tyd vir aandete. Die Oos-Europese stapeldieet van goulash,
kool en kluitjies het hom nie geval nie. Hy hoop innerlik dat die botteltjie
reukwater goed ontvang is, want dan is daar die besliste moontlikheid dat sy
gunstelinggereg vanaand op die spyskaart mag wees. Ai, Karoo lamtjoppies of skaapkerrie met
stampmielies, groen bone en soetpampoen sal darem vorentoe smaak. Hy wonder of
dit te veel gevra is om malvapoeding vir nagereg te verwag, of straks gebraaide
kaiings vir 'n voorgereggie.
Hy sal mooi oplet of sy miskien van die geskenk aangewend
het. Hy hoop nie sy lewer kommentaar oor die rooi swelsel aan sy gesig nie. Hy
is nou nog vererg dat Dracula hom onkant betrap het met sy eerste opstopper. Hy
sal meer aandag aan sy gevegkuns en fisiese kondisionering moet gee. Nie alle
teenstanders sal so maklik baasgeraak word nie. Die welkome lui van die
etensklokkie onderbreek sy gedagtegang, en sy maag grom onwillekeurig.
Kastaiings, afval, koeksisters- wat sal dit wees? Bly vasgenael.
2015/08/01: Ons Held sit behaaglik terug en strek sy
bene. Kaiings, skaapafval, groente en 'n
sny melktert, sterk moerkoffie. Al wat kort is die Arga stoof, en hy kon
sweer hy is terug in die kombuis van die ou plaasopstal in die Karoo.
Hy word bewus van die parfuum van sy gasvrou soos sy
oorleun om sy leë koppie weer vol te maak. Sy skerp en ge-oefende oog het 'n
Weigh Less biljet opgemerk tussen 'n stapeltjie pos en rekeninge op die
koffietafeltjie. Hy wonder...
2015/08/03: Sy linker pik, pik, dan ontplof die regter
boulhou teen die slaansak. Doef! Die opsigter wat besig is om die vloer te mop,
kyk verskrik op. Een-twee, een-twee, sy volle gewig agter die opstopper. Beelde
van vorige helde...Tommy, The Hitman, Hearns, Sugar Ray Leonard, Marvelous
Marvin Hagler. Hygend, bors wat brand, harder, harder. Visualisasie spoor hom
aan...Joggie Jansen wat Wayne Cotterel middeldeur sny met 'n plettervat op
Loftus in die 1ste toets teen die 1970 All Blacks, en daarmee die gang van die
toets en die reeks verander. Frik du Preez en Albie Bates se "gang-tackle"
op die arme Chris Laidlaw in dieselfde epiese wedstryd. Nou meedoenloos teen
die peerbal, vinniger, vinniger. Die brunette met die skalkse glimlag, Mev
Potjierol en Karoo tjoppies moet vir eers wag. Dis weer tyd vir 'n spartaanse
leefstyl van moordende oefensessies, koue storte en skamele etes.
Die rampokkers, booswigte en gespuis moet betaal vir hul
dade! Hy sal hulle wys waar Dawid die wortels gegrawe het!
Die volgende aksiebelaaide greep volg.
2015/08/16: Versigtig sit hy die naald neer op die
langspeelplaat. Die krapperige, dog strelende klanke vul sy klein kamer. Hy
voel die omslag van die Frank Sinatra album tussen sy vingers. Sy oog vang sy
beeld in die spiel - die sweetkolle donker op die oefenhempie. Hy voel tevrede
oor die moordende oefensessies van die afgelope paar weke. Dis weer tyd om die
donker strate aan te pak. Iets pla hom egter- die groeiende invloed van die
Sjinese in Afrika. Hulle opmars moet gestuit word! Ons held bepeins hierdie
nuwe uitdaging. Hoe sal Die Skim die vasteland van die Oosterse Draak bevry?
Moet vir seker nie die volgende spannende episode misloop nie.
2015/08/20: The One Belt, One Road inisiatief wat van
stapel gestuur is deur die Sjinese President Xi Jinping. Die integrasie van die
Sjinese ekonomie in die wêreldekonomie dmv handel, beleggings, infrastruktuur
en "connectivity". Gewigte sake hierdie. Ons Held neem 'n versigtige
slukkie van sy koffie en beskou die rekenaarskerm en leêrs op sy lessenaar.
"Cost Accountant" lees die plaatjie op sy deur. As sy kollegas maar
geweet het wat sy werklike rol in die lewe is.
Hy moes al per geleentheid met verskonings vorendag gekom
het om kneusings aan sy hande en gesig te verduidelik. 'n Rilling hardloop teen
sy ruggraat af as hy onthou hoe besorg die jong ontvangsdame was toe sy met
haar sagte, slanke vingers teer aan sy wangbeen gevoel het. Hy sal vir Jinpeng
wys waar Dawid die wortels gegrawe het- of is dit nou die noodles?!
2015/08/20: 20 jaar se opoffering, toewyding en vreeslose
bevegting van die booswigte wat sy mense en sy buurt geteister het. Die
littekens aan sy lyf vertel 'n verhaal van heldedade en noue ontkomings.
Was dit alles die moeite werd? Hy dink wel met
genoegdoening terug aan die insident toe hy geen ander keuse gehad het as om 'n
bofbalkolf te gebruik om 'n sekere varknek se gebit permanent te herrangskik
nie! Die forensiese kenners sou sekerlik gesukkel het om die knaap aan sy
tandheelkundige rekords te identifiseer. Hierdie nuwe uitdaging is besig om hom
te affekteer. Die aaneenhoudende hol kol op die maag. Dit gaan ' n grootse
poging verg.
Wat volgende Skim?
2015/08/24:Die GridWatch Toep kom handig te pas. Nou weet
ons Held wanneer Eskom beplan om beurtkrag in sy buurt toe te pas. Dit is mos
juis dan wanneer hy in die donker deur die strate moet gly.
Hy besluit om sy roete weer te verander, asook om dit
kloksgewys in plaas van anti-kloksgewys aan te pak. 'n Man kan nie bekostig om
voorspelbaar te word nie.
Enige sprake van nuwe uitrusting moes vireers agterweë
bly- die trip om vir Count Dracula te konfronteer het heelwat gekos.
Daar is dit weer! Die onmiskenbare klank van glas wat
breek...vinniger, longe wat brand, dan is hy los oor die muur. 'n Gedempte knal
en iets ruk aan sy skouer. Vuurwarm pyn skiet teen sy arm af...dan is hulle op
mekaar.
Bly vasgenael...hoe sal Die Skim oorleef?
2015/08/25: Sy linkerarm is tydelik verlam. 'n Grynsende,
gespierde figuur met 'n pistool in sy hand swaai wild na sy kop! Instink neem
oor. Die Skim vee sy aanvaller se voete met 'n goedgeplaaste skop onder hom
uit. Oomblikke later ontplof 'n kragtige regter
teen die skurk se kakebeen. Sy voorkop klap genadeloos teen die groot,
plat neus. Warm bloed spat teen sy gesig. Skielik is als oor...Behendig
deursoek hy die aanvaller se broeksakke.'n Verfrommelde kwitansie van 'n winkel
in Maputo word sy enigste leidraad.
Die bewoners is nie tuis nie. Na 'n anomieme oproep na
die Brooklyn polisiestasie sluk die donker nag ons held in.
Die pyn in sy bo-arm so te sê vergete tot hy terugsluip
in sy beskeie kamertjie. Gelukkig het die patroon hom net skrams getref. Nou om
die wond te versorg...'n klop aan sy deur! Sekerlik Mevrou Potjierol...hoe nou
gemaak?
2015/08/28: Dis stil en donker. Versigtig stoot sy die ou
houtdeur oop. Vars,skoon handdoeke in haar arms. Sy verstar...die natgeswete, gespierde bolyf...bloeiende
skouer. Die verrassing duidelik in sy oë. Die handdoeke val op die bed.
Hy prewel iets van 'n sakkeroller wat 'n bejaarde dame se
handsak wou gryp. Sy hoor skaars. Haar opleiding as 'n verpleegsuster dikteer.
Ferm, vaardige hande wat was, ontsmet, verbind...hy is bewus van haar nabyheid,
die reuk van haar hare aangenaam. Haar besorgdheid duidelik, die aanraking teer
as sy die laaste bloed afvee. Hy wil iets sê...die kommer in haar oë, pragtige
vol mond wat wil bewe. Dan is sy weg.
Verward gaan sit hy op die katel. Weerloos teen die
emosies wat hom oorval.
Wat nou Skim?
2015/09/01: “No Parking Geen Parkeering” lees die kennisgewingbord.
Slordige taalversorging en spelfoute agter die boereworsgordyn. Geïrriteerd
draai hy om die volgende 80 meter teen die geniepsige steilte aan te pak. Sy
hart hamer teen sy ribbekas, polsslag 175.
Stadiger af teen die bult om te herstel voor die volgende
een.
Hy dink onwillekeurig terug aan ou Driesse wat sy
Afrikaanse onderwyser was op skool. Hoe het hy hulle tog nie gedril nie! Jy
'doen jou bes', nie 'probeer jou bes' nie! Die verkeerde gebruik van “was
gewees “ in ‘n sin. “Weer eens “ is 2 woorde! Sy invloed het hom bygebly deur
al die jare. Asook die vernuf wat sy oorlede ma met die kriptiese blokraai
gehad het. Nou is die blokkiesraaisel in Saterdag se Beeld ‘n moet vir ons held.
17, nog 3 wat voorlê. Sweetdruppels brand sy oe. Die klein groen oefenboekie wat
hy in 1970 gekoop het. Maj. John Short was 'n gerekende atletiekafrigter. Hy
het selfs vir Gerrie Coetzee gehelp om die swaargewigbokstitel te verower.
Krag-relevante fiksheidsoefeninge was sy mantra. Nostalgie oorval hom vanaand.
Hygend begin hy die kort afstand terug na die losieshuis.
Die maan is pragtig, die buurt stil. Hy's te laat vir aandete. Droë weetbix is
sy voorland. Daar sal darem ‘n vrug wees wat hy vanuit die bak in die
ingangsportaal kan gaps.
‘n Geringe
beweging van mevrou Potjierol se slaapkamergordyn trek sy aandag...
Lag ek te lekker! Kan nie wag vir die volgende, spannende skim storie nie!
ReplyDeleteVrugbare verbeelding en onberispelike taalgebruik Smutsie! Jou aftreejoppie neem vorm aan.
DeleteTerloops Albie Bates is een van my vennote op die plaas; daai foto van die tackle hang in die huis.